NEWS & COMMUNICATION Die SAIO publiseer die resultate van die eerste Suid-Afrikaanse Openbare Sektor Bedrogondersoek [ Back to the News & Communication Page ] Die resultate van Suid-Afrika se eerste plaaslike Openbare Sektor Bedrogondersoek is so pas in ‘n omvattende verslag deur die Suider-Afrikaanse Instituut van Owerheidsouditeure (SAIO) vrygestel. Die Uitvoerende President van SAIO, professor Dieter Gloeck, verduidelik dat hierdie navorsingsprojek onderneem is teen die agtergrond van die regering se verklaarde stryd teen bedrog, sy verbintenis tot ‘n deursigtige en verantwoordbare administrasie en om die effek van nuwe wetgewing soos die Wet op Openbare Finansies en Bestuur (PFMA) te peil. Gloeck is vol vertroue dat die inligting wat deur die projek gegenereer is, owerheids- departemente sal help om effektiewe en doeltreffende teen-bedrog strategieë en bedrog voorkomingsplanne te ontwerp. Inligting wat huidiglik oor bedrog beskikbaar is, is bykans uitsluitlik op ondervindinge in die private Gloeck, wat ook ‘n professor in Ouditkunde aan die Universiteit van Pretoria is, het as leier van die navorsingspan opgetree. Hy verduidelik dat die instituut verskeie aanbiedinge vir borgskappe van die projek van die hand gewys het. "Ons glo dat die inligting en die bevindinge absolute onafhanklikheid moet weerspieël en dat die instituut ook as onafhanklik gesien moet word. Gevolglik is die projek heeltemal uit eie fondse gefinansier en dit word daarmee ‘n ware onafhanklike beoordeling van huidige tendense." Die projek verskaf ‘n magdom inligting, wat dit moeilik maak om een spesifieke bevinding uit te lig. Dit sal die openbare sektor bystand verleen om hulle stelsels te versterk en rekenpligtigheid te verbeter. Gloeck wys uit dat hierdie projek op ‘n tema fokus wat vir almal "ongemaklik" is, naamlik: bedrog. Bedrog is ‘n negatiewe en destruktiewe verskynsel en ‘n verslag oor bedrog kan maklik gesien word om ‘n soortgelyke effek te hê. Groot omsigtigheid is dus aan die dag gelê om die inligting so objektief, dog so reguit moontlik aan te bied. "Moet asseblief nie die draer van slegte nuus skiet nie, as die boodskap nie is wat u verwag nie", het hy bygevoeg. Hy vertrou dat die leser van die verslag ook aangemoedig sal word deur die baie positiewe aspekte wat daaruit voortvloei. "Oplaas vertel hierdie projek ons meer oor die hartklop van ons nasie, die wese van ons Suid-Afrikaanse samelewing. 11 Julie 2002 Bevindinge van die eerste Openbare Sektor Bedrogondersoek Nege uit elke tien persone wat by die ondersoek betrek is, verklaar positief dat bedrog ‘n wesenlike probleem in die openbare sektor is. In die verskeie regeringsvlakke het plaaslike owerhede die laagste bedrog bewustheidsfaktor (3.37), in vergelyking met die hoogste vlak (3.75) wat by nasionale regerings aangeteken is. ‘n Hoër bedrog bewustheidsfaktor het normaalweg laer bedrogvoorvalle tot gevolg. Hierdie bevinding word ondersteun deur data wat op die Noord-Wes provinsie betrekking het. Die Noord-Wes provinsie het die hoogste bedrog bewustheidsfaktor (3.94) en ook die laagste faktor ten opsigte van bedrogvoorvalle. Departemente word gevolglik aangeraai om bedrog bewustheidsvlakke te verhoog as ‘n eerste stap om bedrog te bekamp. Respondente het aangedui dat hulle nie ‘n noemenswaardige verandering in die bedrog bewustheidsfaktore in hulle omgewings ondervind het nie. Hulle verwag egter ‘n relatief groot afname in bedrogvoorvalle in die komende jaar. 60 persent van alle respondente is bewus van voorvalle van bedrog wat in hulle ondernemings plaasgevind het. Dié voorvalle neem in verhouding tot die grootte van ondernemings toe: groot ondernemings het die hoogste bedrogvoorvalle. Swak (of ‘n gebrek aan behoorlike) interne beheer word gesien as die mees belangrike faktor wat ‘n omgewing, vatbaar vir bedrog, veroorsaak. Swak bestuur en matige strawwe dra volgens respondente se oordeel ook grootliks by. Faktore wat gesien word om nie ‘n groot invloed te hê, is: hoë werksladings, onvoldoende wetgewing en sosio-ekonomiese wanbalanse. Daar is ‘n duidelike meningsverskil by die verskillende regeringsvlakke, betreffende die invloed van lae salarisse op ‘n toename in bedrog. Nasionale regerings sien dit as dié groot faktor wat bedrog aanhelp, terwyl plaaslike regerings die bydrae wat hierdie faktor op ‘n toename in bedrog maak, relatief laag aanslaan. Werknemersbedrog verteenwoordig die hoof bedrogkategorie (bykans 50%), gevolg deur bedrog deur buitestaanders en laastens bestuursbedrog (20%). Die navorsing dui op die bestaan van verskillende bedrogpatrone in die onderskeie provinsies - ‘n faktor wat in ‘n suksesvolle strategie ter bekamping van bedrog geïnkorporeer behoort te word. Omkoopgelde en diefstal van voorraad is die mees algemene tipes werknemersbedrog. Die probleem van "omkoopgelde" is veral opmerklik by plaaslike regerings, groter organisasies en die provinsies: Noord-Wes, Limpopo en Mpumalanga. Van alle bedrog kategorieë oorskry net één rangorde die faktor 10, naamlik "omkoopgeld" in die Noord-Wes provinsie. Die studie identifiseer die kategorie "tyd bedrog" (mense wat nie ‘n volle dag se werk lewer) as een van die hoof bedrogkategorieë by beide werknemers en bestuur. Hierdie aspek is nie ‘n kenmerk by soortgelyke studies wat in ander lande in die wêreld onderneem is nie. Die relatief lae rangorde wat loonbedrog en salarisbedrog beklee, dui aan dat nòg bestuur, nòg werknemers dit as ‘n groot probleem sien. Hiermee word aangedui dat huidige stelsels die risiko’s in hierdie verband minimiseer. Ander bedrog tipes wat by bestuur ‘n relatief lae voorkoms geniet, is diefstal van bates en tjekbedrog. Hierdie bevindinge verskil drasties van resultate van soortgelyke studies in die private sektor waar diefstal van monetêre en fisiese bates tot 80% van alle bedrogverliese veteenwoordig. Oneerlike handelinge soos om inligting te verander, aankoopbedrog en wanvoorstellings figureer hoog in die kategorie: bedrog deur buitestaanders. Die navorsingsbevindinge bevestig die bestaan van afpersing. Alhoewel dit redelik laag in die rangorde verskyn, vergeleke met die ander tipes bedrog deur buitestaanders, regverdig die erns van hierdie misdaad spesifieke aandag en strategieë moet ontplooi word wat op hierdie aspek fokus. Onthullers (whistle blowers) speel ‘n belangrike rol om ondernemings by te staan met die ontdekking van bedrog. Interne beheerstelsels en interne oudit word geïdentifiseer as die twee groot hulpmiddels waarmee bedrog voorkom en bekamp word. Benewens onthullers (nommer een posisie) word interne beheer en interne oudit ook gesien as die belangrikste hulpmiddels om bedrog te ontdek. Interne oudit speel by verre ‘n groter rol om bedrog op te spoor as eksterne oudit. Dit is slegs in die provinsies waar die rol van eksterne oudit (Kantoor van die Ouditeur-generaal) goed met die interne ouditkomponente vergelyk. Die gaping tussen die bedrogopsporingsrol van interne en eksterne ouditeure is die grootste by plaaslike owerhede en openbare entiteite. In beide hierdie groepe vind ons ‘n meer aktiewe betrokkenheid van Geregistreerde Rekenmeesters en Ouditeure (private sektor ouditeure), met verskeie openbare entiteite wat privaat sektor ouditfirmas as ouditeure mag aanstel. Die eksterne ouditeure se rol ten opsigte van die opsporing van bedrog word in die publieke sektor hoër aangeslaan as in die private sektor. Organisasies verkies intern-georiënteerde aksies (interne ondersoeke, disiplinêre optredes, ens.) bo die betrokkenheid van buitepartye (polisie, Ouditeur-generaal). Die sterkste aksies om bedrog te voorkom en te bekamp is interne beheer, interne oudit, etiese kodes en bedrogvoorkomingsplanne. Die navorsingsbevindinge dui aan dat die Wet op Openbare Finansies en Bestuur en verwante wetgewing oor die algemeen gesien word om ‘n baie positiewe impak op die stryd teen bedrog te hê. Die inligting wat versamel is, dui daarop dat "onvoldoende wetgewing" nie ‘n wesenlike faktor is wat tot bedrog bydra nie. Hierdeur dui respondente aan dat ons land se wetgewing in hierdie verband toereikend blyk te wees. Die waarneembare vlakke van bedrog in die openbare sektor is 23% hoër as in die private sektor. Geen enkele kategorie dui aan dat die private sektor se bedrogvlakke hoër is as die openbare sektor s’n. Bedrog word in beide die private en openbare sektor as ‘n baie ernstige saak gesien. Die probleem van bedrog word egter meer ernstig in die openbare sektor as in die private sektor gesien. Die private sektor verwag egter ‘n groter toename in bedrogvoorvalle. Dit dui op ‘n ingesteldheid dat bedrogvlakke in die openbare sektor nie bo hulle huidige vlakke kan styg nie. Gemiddeld 80 persent van die respondente het aangedui dat hulle nie opleiding ten opsigte van die departement se bedrogvoorkomingsplanne ontvang het nie. Die gebrek aan opleiding is ook van toepassing op ander gebiede soos die nuwe Wet op Openbare Finansies en Bestuur. [ Back to the News & Communication Page ]
| HOME | CONTACT US | MISSION | COPYRIGHT | NPO Registration Number : 045-133-NPO| web design by DUMELANG MEDIA SERVICES |
HOME ABOUT MEMBERS TRAINING GASP 2016 SAIGA Reporting Awards PUBLICATIONS RESEARCH COMMUNICATION